Tuisblad arrow Biografie
Biografie
Karien Jordaan Gebore in Oos-Londen (vandaar my passie vir die see). Getoë in Kaapstad (na vele reise steeds die mooiste stad in die ganse wêreld). Woon paar jaar in Namibië (met die mees asemrowende woestyn op die planeet) en later in Kimberley (die beste plek om kinders groot te maak). Vestig ses jaar gelede in Bloemfontein (met die mooiste aande en vriendelikste mense denkbaar). Behaal BMus aan die Universiteit van Kaapstad en hou vir etlike jare daarna skool. Raak betrokke by SABC se Ligtemusiek Afdeling waar ek musiekverwerkings doen en musiekprogramme vir radio regisseer.

Musiekregie van amateurproduksies: Fame, Pippin, Sophiatown en West Side Story. Doen ook verskeidenheid verhoogwerk – (sang en toneel): Jacques Brel is alive and living in Paris; Side by Side by Sondheim; Net Daisy; Lindentree; Make mine Music en Life of Lill. Speel by verskeie kunstefeeste – Grahamstad, KKNK, Aardklop en Gariep. Begelei Vincent van Rooyen op klavier by die Mondfluitjie Wêreldkampioenskap op die eiland Jersey in die Engelse Kanaal. Werner sê ek is patologies nuuskierig, maar eintlik is ek net uitsonderlik weetgierig. Dié karaktereienskap laat my in die OFM Nuuskantoor beland vanwaar ek later oorskuif na die uitsaaikant van radio.
Weeksdae - nuusbulletinskrywer/leser op OFM. Saterdae soloshow “K on Saturday” (15:00 tot 18:00)
Karien Jordaan Ek is mal oor onderhoude voer – van die onderhoude wat uitstaan is dié met Desmond Tutu, Ruda Landman, Max du Preez, Ryk Neethling, Patrick Mynhardt, Mannetjies Roux en Al Debbo. Maak ook graag mini-dokkies/hoorbeelde.

Afdraaipaadjies – ‘n reisprogram vir OFM waar ek sentraal Suid-Afrika deurkruis en verslag doen oor interessante/mooi plekke. Doen self navorsing, skryf teks en vertolk op lug.

Zoom
- waar ek aktuele sake onder die loep neem met deelname van kundiges, betrokkenes, ens.

Actually Factually
– waar luisteraarsvrae deur kundiges beantwoord word – wissel van hoekom ‘n kameelperd so snaaks loop tot hoe strepies in tandepaste beland.

Great Central South Africans
– met die kollig op mense uit ons streek wat groot hoogtes bereik het – kultureel/sportgebied/akademies/maatskaplik,ens.
Karien Jordaan My passies: Yoga, tennis, lees, teater, musiek, liedjies skryf en reis.

Is veral versot op Afrika – onlangs ‘n lewensdroom verwesenlik toe ek in die DRK na die Berggorillas gaan soek het. Ook die “river rafting” by die oorsprong van die Nyl (Jinja in Uganda) asook die Masai Mara in Kenia was hoogtepunte.

Verlede jaar was ek in Argentinië, van bo in die noorde waar ek die Iguazu Watervalle se sproei op my gesig kon voel tot in die mees suidelike stad in die wêreld – Ushaia – waar jy netsowel op Antarktika kon wees!

Korttermyn doelwit: om my debuut-CD aan soveel moontlik mense bekend te stel.

Langtermyn doelwit: Om koffie te drink saam met Sting en/of Ralph Fiennes. In geen spesifieke volgorde.
 

CD beskikbaar by:


  • Bloemfontein - Kloppers

  • Welkom - Music Corner

  • Kaapstad - Music4U - Cape Gate

  • Kontak My vir CD aankope